top of page

Dit is vroeg oggend, ysig fris, met rookwalms wat puf uit skoorstene en die winterson wat wil-wil warmte bring.

 

Die halfmak wildeperde wei op The Clay Lady se gras, duskant draf ʼn Labrador die stofpad af en stadig maar seker begin Kaapsche Hoop lewe kry.

 

In 1882 het daar hoop op rykdom ontstaan toe goud in die De Kaap Vallei ontdek is -  vandaar die naam “Kaapsche Hoop”. Die ruwe landskap en misterieuse rotsformasies het oorspronklik gelei tot die naam Duiwelskantoor, maar vandag is die myndorpie bekend as ʼn veilige rusplek vir die siel. ʼn Wegkomkans vir die stadsjapie. ʼn Gereelde toevlugsoord vir die gees wat na vryheid smag.

 

Vul jou longe met vars lug op staproetes tussen plantegroei wat vreemd is aan die Laeveld. Laat die rotse  jou verbeelding prikkel en soek ʼn klipfiguur in elke formasie. Loer in by die vuurtoring, waar Nelson rustig waghou by die uitkykpunt oor Barbertonvallei. Trap suutjies oor die klippe by Battery Creek, tot by die waterval, en besoek die begraafplaas tussen denne wat hemelhoog bo ʼn mens uittroon.

 

Bederf jou aptyt vir kos en kultuur by die eksentrieke Bohemian Groove Café. Smul by Koek ʼn Pan aan ‘n pannekoek gevul met soet of sout en spoel dit af met ʼn drankie voor Salvador se kaggel.  Woon die Sondagoggend-diens by in die pragstuk van ʼn kerk en kyk watse fraaihede daar in die winkels te vinde is:  glaswerk, erdeware en allerlei tuisgemaakte produkte. Tweedehandse meubels, winterdrag en antieke modes waaroor enige ‘hipster’ gaande sal wees.

 

Benewens die natuur se vreemde bekoring, die gesellige eetplekke en wonderlike winkels is jovialiteit ʼn kenmerk van Kaapsche Hoop. Eienaars kuier saam met gaste  en winkeliers knoop geselsies aan wat ure lank aanhou. Selfs die dorp se viervoetiges groet opgewek, met ʼn vriendelikheid wat mens nie sommer van enige dier verwag nie. Meer as ʼn eeu later is daar geen sprake meer van goud in die grond  nie, maar nogtans bied die dorpie steeds volop hoop vir inwoners en besoekers van heinde en ver. Nie noodwendig op oorvloed, rykdom en mag nie; maar op kalmte, eenvoud en geluk.

Daar is hoop

© 2013 by MIA VAN DER MERWE / Proudly created with Wix.com

  • Twitter Classic
  • Facebook Classic
bottom of page