top of page

Hulle ontmoet elke dag, in die koelte wat my takke en blare bied. Dikwels om te speel, partykeer om te lag, maar meestal net om kind te wees. Hulle klim al my takke uit, een vir een. Aan die laagstes word geswaai en in die skadu’s gerondomtalie tot die dronkheid hulle saggies by my voete gaan laat Iê. 
 

Sy vertel van al haar voorliefdes: van katjies tot katjiepierings. Met ’n stok in die hand word drome in die grond geïllustreer. Wat haar laat lag en wat haar laat huil, daarvan leer hy alles.
 

Moeiteloos deel ook hý sy wense, al sy vrese en sy afkere. En ook die vrae wat ’n frons tussen twee nuuskierige oë agterlaat.
 

Só word ek die plek van jonkwees, ’n skans teen die wêreld. Alles wat ek bied, word met ’n onbevange gretigheid aangegryp. En dié waardering sorg vir mý hoogste genot. “Klim soveel as julle wil. Swaai aan my takke en draai in my koelte. Solank julle net nie van my pere eet nie.” Dit is al wat ek vra.
 

“Dié boom se pere éét?!” roep haar oë in stomme verbasing uit.
 

“Hoe sou hulle smaak?” wonder sy nuuskierige oë.
 

Haar smeek en mooipraat is alles vergeefs. 'n Saad is geplant en diep in sy rustelose binneste het iets ontkiem.
 

“Net een. Net om te proe.”
 

Sy kyk op na my takke.
 

“Hy waarsku nie verniet nie,” soebat sy weer.
 

Maar haar gestribbel word al flouer. Uiteindelik volg haar oë maar net hoe hy klim, al hoër, al soekend, maar dié keer nie na my koelte of die vastigheid van ’n tak nie. Behendig kies hy die rypste peer, met die vorm van ’n hart en ’n glans van goud.
 

 Skraal vingers streel saggies oor die vlees. En voor sy vir oulaas kan keer, neem hy ’n hap uit die sappige vrug.
 

Sy staar, wagtend op die onheil. Hoekom die waarskuwing, waarom die nee? Sy bestudeer sy gesig, die hoeke van sy mond, die blou van sy oë. Maar hy glimlag dan! AI breër en breër. En met nuwe bewondering word ek aanskou, word ek opnuut waardeer.
 

“’n Anderwêreldse ervaring”, sou hy dit later noem. Van kroon tot toon het ek gegloei. Gloeilampe vir pere en feeliggies vir blare. En ’n bas met ’n warmte wat van diep binne af smeul.
 

Hap na hap, vrug na vrug, groei sy verwondering: “Ja, hóékom waarsku hy, wáárom sê hy nee?”
 

En soos ek gevrees het, kom hulle weer. Vol vreugde en opwinding, nes elke vorige keer. Bly is sy om teen my bas te kan lê, in my takke te kan wieg en uiteindelik in te sluimer. Maar slaap en rustig wees soek hý nie. Boomklim self is nie meer ’n avontuur nie. Dit het ’n doel gekry.
 

Opnuut probeer sy keer. Sy vertel stories en deel ’n geheim of twee. Alles om sy aandag weg te lei van die goudgeel ding wat so aanloklik daar hang.  Sy probeer hom herinner aan die lekker van swaai en speel. Maar sy oë kyk anders. Die ander dag se ekstase was te soet, maar ook te kortstondig.
 

Sy tweede ervaring was alles ’n bietjie méér. ’n Vetter peer en ’n groter hap. ’n Gouer glans en ’n warmer gloed. Intenser as laas, maar net so tydelik.
 

So kom hulle en gaan hulle.  Nog ’n dag onder my takke, nog ’n dag in my koelte. Nog ’n dag vir speel, ’n dag vol begeerte: haar begeerte na sáám speel en sáám rus. Maar ook die ánder, rustelose begeerte in hóm.
 

Sy probeer ’n laaste maal en bied selfs aan om saam te klim. Om saam in die hoogste mik te gaan sit. “Ons klim hom stadig uit, tot héél bo,” sê sy. Dit gaan nie oor wen nie. “Ek wil saam met jou na die uitsig kyk, na jóú uitsig kyk. Ek wil verstaan.”
 

Maar die nuuskierigheid in sy oë, die frons tussen die wenkbroue en die onrus wat diep binne hom roer, laat haar besef: hy sál weer klim, hy sál verder eet. Hy’t ’n honger in hom, ’n honger wat knaag en smag na mý vrugte, en mý vrugte alleen.
 

Dié keer is hy haastig. Hy bestyg my onverskillig, bereik gou die hoogste tak, soek gierig na die rypste peer. Hy gryp ongeduldig na die vet vorm en vreet die ding met ’n paar gulsige happe op. Pitte, stronk en al. En dan is hy weer aan my voete, staan en staar hy om te sien hoe ek nóú lyk.
 

Ek begin soos al die ander kere te gloei, al sterker en sterker.  Mooier as te vore, asemrowend. My pere lyk weer soos warm kole, my blare flikker soos kersvlamme in die wind en my bas het die gloed van ’n bosveldvuur.
 

Sy mond hang oop. Hy sukkel om te glo wat hy sien.
 

Ek brand.
 

En ek brand en ek brand, van bo tot onder. En ek sien hoe die vlamme in sy blou oë weerkaats. Die nuuskierigheid, die onrus, al die vrae is nou weg. En ek brand en ek brand, van my kroon tot onder by my wortels. En soos ek vergaan, waarsku ek ’n laaste maal: “Alles verdof maar met die tyd. Uitbrand lýk net meer opwindend.”

Sien jou by die peerboom

© 2013 by MIA VAN DER MERWE / Proudly created with Wix.com

  • Twitter Classic
  • Facebook Classic
bottom of page