top of page

("Snow globe": ’n Miniatuur toneel en landskap omring deur ’n glasbol, gevul met water en nagemaakte sneeu.)

 

Daar's ’n kabaal in die winkel.

 

Toegemaak en ligte af; klaar geposeer vir die dag.

 

Dit gons van opwinding, wemel van speelgoed, op elke rak en in die uitstalkas. Dis tyd om te verken, daai popbene te strek en die plastiek lokke los te laat, wispelturig in die dakwaaierwind.

 

Dis tyd vir klouter: opgestopte bere, snoesig sag en stywe soldate, vuilgroen, al klimmend teen die blokkasteel op. Dís die wye uitsig waarna meeste smag. 

 

Kraal oë opsoek na vervulling, na iets avontuurlik, op ’n rak duskant allerdaags.

 

Maar húllé dwaal nog, al in die rondte, in die “snow globe” ten toon gestel in ’n eenkant kas. Al te fraai van aansien, maar vasgekeer in die klein koepel van glas.

 

Hulle lýk tevrede, binne die borrel blink gepoleer. En skynbaar gelukkig lewe hul voort, veilig afgesper deur die kleurlose grens...

 

 

Dis oopmaaktyd en die ligte brand; tyd vir 'n nuwe dag van speel-speel poses.

 

Deur gange en rakke trippel kaal voetjies soekend. Taai vingers voel en vat aan ’n opgetofte pop. Motors gerangskik in ’n plastiek stoet en albasters wat rol oor die ingeboude mat.

 

By die eenkantrak strek hande uit na die bol, twee oë tuur deur die ronde glas. En met 'n heftige skud, skommel die sneeu en dit sak.

 

Maar hulle dwaal nog, al in die rondte. Onaangetas deur die grootheid buite, onbewus van die winkel se wyer bestaan.

Duskant die glas

© 2013 by MIA VAN DER MERWE / Proudly created with Wix.com

  • Twitter Classic
  • Facebook Classic
bottom of page